Hyperlinks




Afrikaans Gedigte

Bedelaar

Etienne van Heerden


Bedelaar

Uit die halflyf op sement
skarrel kraphande na afvalkos:
die krom garnaal van 'n halwe sigaret,
die sagte wit skulp van 'n hand
of soms die bruin seegras van 'n Rand.

'n Rooi robot keer my voor hom vas:
hy kyk na my, sy oë stip,
twee seeluise wat oor my hande glip,
en agter hom, in houdings van reklame
staan poppe in klerewinkels se rame.

Op die hoek voor die Barclays-gebou
gryp sy hande na my skene en hou,
toe hy my het, begin hy bene groei, mý bene
syne, ek sit laag in half gesny
en hy loop weg en lag na my...

Die middag, op die klam
sweetkol van sy onderlyf, sit ek
halflyf in sement en kyk na kuite;
die stil gespot van winkelpop na winkelpop
en om my hou verdiepingbusse dop.

En met die vyfuur-klap van hakke teen teer,
die skarnier van kuit in skeen in enkel
is dit ek wat op sý sitplek
vyfuur op die hoek tussen al die bene
na my beste voete soek.

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck