Afrikaans Gedigte

Bloedgebrek vir die Uitwoners van Winter

Kabous Verwoed


Bloedgebrek vir die Uitwoners van Winter

Bring vir my die vaalheid van die maan, of die sombere blink van
sterre, as jou mense in die donker begrafnis hou en die wildehond
wegraak, onder die stowwerige pote van sy prooi.
Kom stamp jou voete aan my kant,
kom maak jou hande amper brandwarm
om my koue straat, konkavuur,
maar vertel my van die woede van jou winter.
Van sakke kole op 'n twaalfrand special en hoe ver die pad na hitte is.
Van jou vriend Vusi oor die straat
met wie julle een oggend middel laasjaar heeltemal bevrore en
heeltemal verniet, na 'n ambulans toe gehardloop het.
Vergas my, op koue stories oor die maan, heelnag bo jou kop deur 'n
skreef in sink en die laaste vyftig jaar se straatgeluide, wat nooit
verander het nie.
Kom sit hier by my in die dansende vlammelig.
Kop op my skouer en jou fluister saggies in my oor.
Van viruskinders, jonk soos die oggend, maar Godvroeg in die grond en
die Amerikaanse medisynes, so duur, dit kon niemand red nie.
Dan huil en vloek ons gedemp saam oor die ironie in Mark Shuttleworth,
se fokken dollardanse langs die maan.

Laat jou naam jou eie wees.
Laat jou taxi voor donker kom.
Ek vra niemand vir genade nie,
maar alleen vir geluk.

Amen.

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck