Afrikaans Gedigte

Die Ou Voortrekker

AG Visser


Die Ou Voortrekker

My kinders om my bed geskaar
Ek voel die lange tog is klaar,
Die laaste uitspan daar, ---
Dank Heer, dat U aan gindse kus
Die moeë trekker gun sy rus,
Na opdraans lank en swaar.

Die ou familiebybel daar
Moet julle meer as goud bewaar;
Hy was deur al die swaar
My raad en troos in tyd van nood,
Nou in die ure van die dood
My vaste steunpilaar.

Daar aan die muur hang my geweer;
Bewaar hom goed. Hoe menig’ keer
By dreigende gevaar
Was net sy snelle, wisse lood
Ons een’ge redding van die dood
Deur roofdier of barbaar!

Majoebaberg die ken sy knal;
Die grootwild het voor hom geval,
En leeus die stof gebyt!
Mag daar nooit iemand met my van,
Wat nie kan skiet --- geen weerbaar’ man, ---
Die lewe hulploos slyt.

Besonders wil en julle vra:
Hou vir gedagt’nis my ou wa;
Wat het hy nie deurstaan?
Hy was ons huis as onweer dreig,
Ons vesting sterk in felle kryg
Met Silkats en Dingaan!

Hy kan getuig van moedermin:
Die Lewe het in hom begin;
Die kille Dood ken hy.
Wat ‘n verhaal kon hy ontvou
Van mannemoed en vrouetrou
En eerste liefde bly!

Gee aan ou Poon, my laaste perd,
Genadebrood. Hy is dit werd.
Vir hom is daar geen geld!
Hoe dikwels het ons twee gedeel
My laaste bietjie mieliemeel
Daar buite op die veld!

My kinders bly die grond behou;
Onthou julle afkoms; wees getrou!
Laat vreemde sedes staan!
Al bars die swaarste onweerswolk
Oor ons, tog bly ons nog ‘n volk
En sal ons voortbestaan.

Daar’s nog ‘n ou Transvaalse vlag ---
Bewaar . . wie weet . . miskien . . een dag ---
Ek sal daar nie meer wees ---,
Maar mag ons eie vlag weer waai,
Vat my geweer en skiet en laai ---
En . . . Heer, ontvang my gees !

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck