Afrikaans Gedigte

Die struktuur van n gedig.


Die struktuur van n gedig.


ʼn Onderskeiding wat dikwels in poësie  gemaak word, is dié tussen vorm en inhoud, en dan word daar gesê: vorm en inhoud is een. Hierdie stelling is aanvaarbaar, mits ons veral twee dinge onthou: dat die inhoud en die stof nie dieselfde is nie; en dat die taal van die gedig nie sonder meer tot die vorm-aspek van poësie behoort nie.
Eers wanneer die ongeordende stof op ʼn gebaalde manier gerangskik is, deur die verbeelding van die digter omtower is, kan ons praat van die “inhoud” van ʼn gedig. Net so met die taal. Die taal kan slordig of essensieel aangewend word, en slegs in die laasgenoemde geval het dit met die vorm van die poësie te make.

Met die onderskeiding vorm-inhoud moet ons dus versigtig werk. Uit die betoog tot dusver kan die leser maklik die indruk kry dat daar drie skerp afgebakende stadiums in die skeppingsproses is: die stofgegewe, die inhoud en die essensiële taalvorm. Dit  is ʼn baie simplistiese en misleidende voorstelling van sake.
Hierdie simplistiese voorstelling het ook ʼn ander gebrek: dit kan maklik die indruk wek dat die vorm ʼn dooie dop is, ʼn soort lekker suikerlagie wat ons moet help om die inhoudspil te sluk, ʼn los kleed wat die digter rondom die voorafvoltooide inhoud hang.

Vorm en inhoud is nie twee fases in die skeppingsproses nie; hulle onstaan en onwikkel gelyktydig. Verder is hulle twee lewende kragte wat voortdurend op mekaar inwerk.

In swak “gedigte” is die vorm inderdaad ʼn soort omhulsel, maar in ʼn geslaagde gedig is dié twee elemente nie te skeie nie. Hulle groei so saam, werk so op mekaar in dat die een slegs uit die ander te begrype is. Sonder die vorm geen inhoud, sonder die inhoud geen vorm. Nie een van die twee is vooraf vervaardig nie, maar die een kom juis in samewerking met die ander een tot volle verwesenliking.
Daarom is dit ʼn ernstige dwaling om aan te neem dat ons almal digters is in soverre as wat almal al die ervaringe van die digters gehad het. Ons ken ook angs, liefde, haat, smart , vreugde – so word gesê – maar ongelukkig beskik ons nie oor die vorm, die “digterlike taal” nie. Die digter is juis digter omdat hy kán sê wat ons ander nié kan sê nie.
Dit moet ons onthou: voordat die denkbeelde of ervaring onvermydelik vorm geword het, kan daar nie van poësie (of inhoud)  sprake wees nie. Daar is nie so iets as ʼn slegte inhoud in ʼn goeie vorm of anders om nie. Vorm en inhoud vorm ʼn eenheid wat in sy geheel beoordeel, verwerp of aanvaar moet word. As daar ʼn swak plek in ʼn gedig is, is dit nie die vorm of die inhoud wat swak is nie; dis die vorm en inhoud wat op daardie bepaalde plek nie ʼn geslaagde verbintenis aangegaan het nie.
Wat ʼn digter te sê het, kry as poësie slegs betekenis nadat dit klaar in die finale en onvervangbare vorm gestalte aangeneem het, m.a.w. as sy rykdom van ervarings eers “die smal poort van die wonder” (Opperman) deur is. Daarom dat selfs die beste parafrase nooit dieselfde as die gedig kan wees nie. Nie alleen die vorm het met die parafrase verlore gegaan nie, maar ook die inhoud.
Die waarde van ʼn gedig lê dus nie in die inhoud nie, ook nie in die vorm nie, maar in die versmelting van die twee waaruit die gedig as losstaande en onafhanklike organisme voortkom, ʼn organisme wat leef volgens sy eie wette en wat volgens daardie wette beoordeel moet word.
Dus: die stof sowel as die taal moet ʼn verandering (herrangskikking, transmutasie) ondergaan voordat ons van poësie kan praat.
Van Wyk Louw het hierdie waarheid êrens so geïllustreer: “Een middag het ek alleen in die son en die wind teen die duin gelê” Is dit nie soos elkeen elke dag praat nie? Nogal baie presies. Maar nou:


Een middag het ek half geslaap
Tussenstilte, wind en lig...
                                       W.E.G. Louw


Hier het ʼn nuwe musikale element bygekom – en die doodgewone woorde en gedagte is tot ʼn skoonheid omskep wat hulle vroeër nie gehad het nie.
Omdat die onderskeiding vorm-inhoud so misleidend kan wees, verkies teoretici vandag die terme materiaal en struktuur. Materiaal is dit waarmee die digter werk. Dit raak die stof sowel as die taal en sluit alles in wat artistiek onverskillig is, terwyl die struktuur tot stand kom deur bewerking van beide die stof en die taal op so ʼn wyse dat dit ʼn artistieke resultaat tot gevolg het.
Voordat ons van poëtiese struktuur kan praat, moet daar dus twee dinge (gelyktydig) gebeur: Die geordende stof moet omgetower word tot ʼn geordende inhoud; en die alledaagse, slordige en lui taal moet as te ware in ʼn nuwe versnelling ingeskakel word.

*Hou die spasie dop. Ons sal later na ʼn konkrete voorbeeld kyk  – deur ʼn gedig van Eugène Marais, as voorbeeld te gebruik.
Hierdie gedig illustreer mooi hoe ons die probleem inhoud-vorm moet sien.

*Bronnelys A.P. Grove: Woord en wonder 

 

Last updated: 21st February 2011 by http://www.woesblog.com/forum/index.php?topic=2158.0

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck