Afrikaans Gedigte

Ek dink ek kan...

Christa van Tonder


Ek dink ek kan...

Eendag was daar 'n enjintjie
Net pas uit die fabriek,
Die groot sterk enjins spot met hom:
“Lyk hy nie te komiek?
Ek sien hom al ‘n trein wegtrek!
Ra-ssh! Ra-sssh! Hoe gek!”

“Die trein het weer bly staan! Roep een.
“Hul moet dadelik 'n enjin hê.
Swart Piet, ek dink jy sal moet gaan!”
Maar Swart Piet skud die kop en sê:
“Ek werk die heeldag lank! Poef! Poef!
Te moeg en warm! Poef! Poef!”

“Nou, Groot Gedruis, dan moet jy kom;
Die trein staan teen die berg.”
“Sakka pakka! So 'n ding
Kan jy nie van my nie verg!
Die pad is nat; sê nou ek kry
Verkoue! Wat word dan van my?”

“Klein Bietjie Niks, jy’s al wat bly –
Die ander het elkeen 'n kwaal.”
“Ek dink ek kan!” sug Bietjie Niks,
“Ek dink ek sal die paal kan haal;
Ek dink ek kan, ek dink ek kan,
Ek dink, ek dink, ek dink ek kan!”

Hul haak hom voor. Die berg is steil,
Die spoor nog daarby nat.
Ek dink...(die trein beweeg), ek dink...
As ek net eens kan vat...
Ra-sssh, ra-ssh! Ek dink ek kan,
Ek dink ek kan. Ra-sssss-ssssshh!
Sakka pakka! Ekka dinka...
Sakka pakka! Ekka kanna...
Sakkeka pakkeka! Pakkeka sakkeka!
Oe...oe...oe...oe...oe...oe...e...t!

Nog 'n paar stampe en nog 'n paar stote,
Maar aanhouer wen! Hul is bo-op die berg.
Oor vlakte draf Klein Bietjie Niks nou gemaklik.
Die groot enjins sal hom nooit weer kan terg.
Ra-ssh! Ra-sssh! Ek dog ek kon,
Ek dog ek kon! Ra-sssh-sssssshh!
Sakka pakka! Ekka dogga...
Sakka pakka! Ekka konna...
Sakkeka pakkeka! Pakkeka sakkeka!
Oe...oe...oe...oe...oe...oe...e...t!

Last updated: 25th February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck