Hyperlinks




Afrikaans Gedigte

Muskietejag

A.D. Keet


Muskietejag

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net 'n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plagery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry -
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria -
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie...

Hoe sedig sit hy, O, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
Nóu gaan die vabond sterwe...
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, sowaar, ek sweer -
My naam is van der Merwe!

Last updated: 23rd February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck