Afrikaans Gedigte

the rise and fall of the afrikaans empire

Koos Kombuis


the rise and fall of the afrikaans empire

"You reached for the secret too soon -
You cried to the moon" PINK FLOYD

Langs die ou grondpad
Het 'n doringboompie gestaan.
Ossewaens en Model T's
het elke week verby gegaan -
Families het later
Piekniek gehou in sy skadu,
By die water
Van die stroom
Met hampers en kiste bier.
So is die Afrikanervolk gebore;
Babalaas en loom,
'n Burp wat eggo
Verby dorindraad, blokhuis
En die verveelde doringboom.

Geen Engelse wa het hom vertrap nie -
Hy het homself ingeperk, verdors, verknel,
Toe, op 'n dag,
Die bouers in hul blikhuisies kom werk
Aan 'n nuwe hoofweg; glad en snel
Vir môre se toeriste
In hulle fur-en-chroom-ses-silinder-doodskiste

Vandag weet niemand van die doringboom
En slegs 'n skelet
Is sigbaar in die nag
En, as jy naby genoeg stap
Tussen die kliperts en die kriekies
Hoor jy nog die gelag van kinders
Waar families vleis gebraai het -
Die doringboom is dood
En gister se geskater
Met blikkoppies by die water
Is versteen vir 'n nuwe nageslag
In muf swart bladsye
En geel kiekies.

'n Stukkende stofpad
Bak nog agtermiddags in die son
Met disselbos en klitsgras geplavei
As afgeleefde monument
Vir reisigers uit die ou tyd
Maar 'n eeu moes end
En inkeer op homself, going, going, gone...
Stil, herders van die volk, leiers van die warboel-trekkery
Want die era van die doringboom is klaar verby.

Last updated: 23rd February 2011 by

Adverts

© 2024 Copyright, All Right Reserved - Winningduck